Leergesprekke in universiteitsklaskamers: 'n Herwaardering
December 30, 2011
5
min read

Opsomming
Hierdie artikel bied ’n herwaardering aan van die waarde wat klaskamergesprekke kan hê vir doeleindes van leer. Dit is gebaseer op ’n ontleding van verskillende teoretiese perspektiewe op en gespreksontledingstudies van die aard van leergesprekke. Hierdie ontleding sluit insigte in uit verskillende dissiplines, soos sosiologie en diskursiewe sielkunde, asook verwysings na etnometodologiese en gespreksontledingstudies wat die gespreksaarde van onderrig en leerinteraksies verder toelig. Aan die hand van voorbeelde van klaskamerinteraksies word die argument ontwikkel dat gesprekke in leeromgewings in die hoër onderwys duidelike sosiale handelinge behels wat direk verband hou met en bydra tot leer. Gebaseer op hierdie insigte word die implikasies vir ’n gesprekspedagogiek vir hoëronderwys-leeromgewings voorgestel: gesprekke vereis aktiewe deelname, varieer in organisasie en vloei, vind doelbepaald plaas, is sensitief vir die sosiale funksies van gesprekshandelinge, wend gesprekstegnieke aan om leer te bevorder, en is ingestel op die ontwikkeling van gespreksvaardighede van studente.
Sleutelwoorde: studentleer, gespreksontleding, klaskamerinteraksie, leergesprekke, hoër onderwys, pedagogiek



